Luna Paige liedjies vol intriges

Posted by Unknown Thursday, April 18, 2013 0 comments

Dit gebeur nie baie dat jy voel jy ken iemand nog voordat jy hom of haar ontmoet het nie. Maar dis presies die gevoel wat ek gekry het toe ek onlangs na Luna Paige se nuwe Afrikaanse CD, Storielied, luister en daarna 'n vertoning van haar bywoon. Haar musiek is eg en outentiek met lirieke wat spreek van gewone mense en hul stories.



Storielied is Luna se eerste Afrikaanse CD/DVD na 10 jaar waarin sy hoofsaaklik Engels sing en 3 Engelse CD’s vrygestel het. Vir haar nuwe CD/DVD het sy Afrikaanse literatuur  gebruik as inspirasie. Storielied is 'n konsep-album en 'n eerste vir Afrikaanse muisek. Met hierdie CD/DVD  het Luna haar inspirasie geput uit stories geskryf deur van Suid Afrika se mees bekroonde skrywers. Dit is 'n unieke projek en is reeds met groot lof deur die publiek ontvang.



Luna Paige verdien staande toejuigings. Meer nog – sy verdien vol sale….Tot nou toe het sy hoofsaaklik in Engels gesing en ‘n mens het baie uitgesien na haar eerste volledig Afrikaanse produksie. Dit was alles en meer as wat mens verwag het…Hierdie reis saam met Paige gaan veels te vining verby. Dit is ook een wat mens ‘n tweede of selfs derde keer sal wil meemaak”. Mariana Malan; Krit; KKNK, 5/4/12



Verlede Saterdag het ek 'n vertoning van Luna by The Cottage Club naby Vishoek bygewoon. 'n Pragtige, intieme plek waar menigte gedugte sangers al opgetree het. Ek was nog op skool toe ek vir die eerste keer kennismaak met haar musiek in my suster se woonstel in Stellenbosch. Dit was Luna se eerste CD, genaamd Luna, en in Engels. Om haar vir die eerste keer te sien optree en in Afrikaans sing, was iets heeltemal anders en baie besonders.








 The Cottage Club.






Luna Paige



Luna is een van daai kunstenaars wat jou warm en tuis laat voel. Met haar stories wat sy tussen haar liedjies vertel en die passie agter die klavier neem sy jou op reise met haar liedjies. Luna vat jou emosies op 'n magiese toer en jy kry lus vir lag, huil, wonder en droom en dit roep herinneringe op van Stellenbosch se wintersdae waar jy laataand rooiwyn drink in De Akker of die einste Eikestad se lentedae wanneer die bome in Victoriastraat uitloop in 'n boog van nuwe kleure.



'n Eenvoudige sin om Luna se musiek op te som: Dit is bitter mooi. By tye laat sy jou voel om 'n bietjie te huil oor die hartseer waarvan sy sing. En dan lag jy weer binne jou, omdat jy jouself in haar ervaringe herken. En as sy die stories vertel wat ons as studente gelees het, soos Die Ambassadeur, laat dit jou tuis voel, want jy ken die stories en jy weet waaroor sy so passievol sing.



Luna se Storielied is ‘n moet vir diegene se CD/DVD rak, wat lief is vir goeie Afrikaanse musiek en passievol is oor Afrikaanse literatuur



Besoek gerus haar webtuiste: http://lunamusic.co.za/afr/



En vir meer inligting oor The Cottage Club, besoek hul Facebook profiel: http://www.facebook.com/cottageclubmusic?fref=ts













Waaroor gaan Storielied?



Suid-Afrika is oor die eeue heen ‘n bymekaarkomplek waar nasies mekaar leer ken, mekaar se taal leer praat en waar hul saam aan 'n nuwe geskiedenis bou. Uit die Noorde kom stories van adelikheid en verbode liefde. Uit die Ooste kom speserye en vroue wat geen man kan weerstaan nie. Dié wat van hiér kom - ken die aarde,haar ritme, haar bossies, haar reuke, haar medisyne en haar ontembare wind.



Luna Paige bepeins saam met Ingrid Winterbach oor evolusie en godsdiens. Sy sing oor vuur en verbode liefde uit André Brink se “Ambassadeur”. Sy gaan haal‘n lewensles uit ‘n Margaret Bakkes roman en sing oor ‘n Boesman gelykenis soos beskryf deur Elias Nel. Sy identifiseer met Dana Snyman se hartseer oor sy ouma en skryf ‘n wiegelied vir een van Chris Barnard se sterwende karakters. Sy dans tot dagbreek toe saam met die bevryde slawe in Raithby.



Storielied gaan oor die liefdesverhouding tussen die mens en die aarde. Luna Paige neem jou op reis na ruimtes waarbinne jy verskeie aspekte van jouself en dié wie jy liefhet, sal herken. Sy maak jou lus vir sing, dans, huil, vir ‘n bietjie kultuur, vir geskiedenis en vir lees in Afrikaans!



Luister gerus hier: http://lunamusic.co.za/eng//pages/videos.php







eliinthecity@gmail.com

TERIMA KASIH ATAS KUNJUNGAN SAUDARA
Judul: Luna Paige liedjies vol intriges
Ditulis oleh Unknown
Rating Blog 5 dari 5
Semoga artikel ini bermanfaat bagi saudara. Jika ingin mengutip, baik itu sebagian atau keseluruhan dari isi artikel ini harap menyertakan link dofollow ke http://sexiestcountry.blogspot.com/2013/04/luna-paige-liedjies-vol-intriges.html. Terima kasih sudah singgah membaca artikel ini.

0 comments:

Post a Comment

Trik SEO Terbaru support Online Shop Baju Wanita - Original design by Bamz | Copyright of sexiest country.